fbpx
0
0
Subtotal: R0.00
No products in the cart.
Search
Close this search box.

MY FRANSE KOSVERHAAL

Elke storie het ‘n begin. Myne begin aan die tafels van my ma en ouma, waar die begrip van Suid-Afrikaanse gasvryheid stadig maar seker my bewussyn binnegesypel het om die fondasie te vorm waarop ek Restaurant JAN later sou bou. Dis hier waar ek, benewens die nederige kuns van bediening ook geleer het hoe om ‘n warm, hartlike atmosfeer te skep waarbinne mense die stof van die alledaagse lewe kan afskud alvorens hulle aansit vir goeie gesels en smullekker kos.

Ek wou so lank as wat ek kan onthou my eie restaurant hê. Gedurende my studentejare het ek as kelner gewerk by ‘n gesinsvriendelike braairestaurant in ‘n winkelsentrum met blikkerige musiek en skreiende fluoorligte. Dit het my egter nie gekeer om die gaste by my vier tafels te behandel asof hulle pas aangesit het by die table grande van ‘n restaurant in die hartjie van Parys nie. Ek was vreeslik gretig om ‘n mate van luister aan enige geleentheid te verleen en sou ‘n karige amuse-bouche saamslaan uit stukkies en brokkies wat ek in die kombuis kon saamskraap en dit dan met groot fanfare op ‘n effe afgeleefde piering bedien.

Die storie van hoe hierdie gretige Suid-Afrikaanse laaitie mettertyd sy eie restaurant in Nice, Frankryk, sou oopmaak is deurspek met struikelblokke, harde werk, deursettingsvermoë en meer as ‘n bietjie suiwer geluk. Ek glo dat elkeen van ons deur die loop van ons lewens ‘n paar geleenthede sal hê waar die sterre perfek in lyn is om ons drome te bewaarheid. Die noodlot sal jou met ‘n paar subtiele stampe en stote op die regte tyd op die regte plek staanmaak, maar in daardie oomblik hang dit steeds van jou af om pens en pootjies in te spring – om oë toe te knyp, die veilige vesting van jou gemaksone agter te laat en te bewys hoe graag jy dit wil hê, ten spyte daarvan dat jy deurgaans jou eie vermoëns twyfel.

My lewe het vyf jaar gelede heeltemal verander. Restaurant JAN is vereer met die koswêreld se hoogste lof toe ons ons eerste Michelin-ster ontvang het. Dit was ook die jaar waarin my tweede kookboek, JAN – My Franse Kosverhaal, gepubliseer is. As ek nou terugkyk, is hierdie boek ‘n wonderlike samevatting van waar ek en my kulinêre span op daardie stadium was.

Die boek is ‘n viering van sommige van my gunsteling Suid-Afrikaanse en Franse geregte, en vang regtig die towerkuns van ‘n tyd vas toe alles moontlik gevoel het. Om die vyfde herdenking van dié kookboek te vier, het ek die laaste oorblywende kopieë in my moedertaal in die hande gekry, en stel ek dit nou hier by JANonline.com beskikbaar. Die boek gaan nie herdruk word nie en hierdie is die laaste 45 Afrikaanse weergawes daarbuite.

Restaurant JAN bly steeds een van my grootste prestasies en lewenslesse. Ek hunker met elke glas pinotage wat ek skink en bord kos wat ek opdien na my wortels; met JAN bring ek hulde aan Suid-Afrika se trotse tradisie van gulhartige gasvryheid.

Ek het geleer dat die lewe jou beloon as jy jou drome najaag. Gaan vind jou vreugde!

Aangepas uit JAN – My Franse Kosverhaal deur Jan Hendrik van der Westhuizen, uitgegee deur Struik Lifestyle in 2016.